Plaasuitstappie na Merino Walk in Cedarville
Woensdag oggend, 8 Augustus, was twintig baie opgewonde kinders op ‘n leersame plaasuitstappie na Merino Walk in Cedarville. Fritz en Dee Nel het ons verwelkom en ons dadelik na die melkstalle geneem, waar elke kind die geleentheid gekry het om ‘n koei te melk. Daar was ook drie honger varke wat baie bly was toe ons hulle groente en vrugte voer. Later is ons agterop ‘n bakkie na die skape en lamas toe, waar Mev Nel ons meer van hulle vertel het. Elke kind is toe ‘n mielie gegee, en toe kon vier kinders op ‘n slag saam met Mnr Nel, op die stroper ry, om die mielies te stroop. Daarna het ons te heerlik in die mielies baljaar. Nadat ons bederf is met koek, kon elke kind op een van die mak perde ry. Ons het Mnr en Mev Nel se gasvryheid waardeer. Dit was ‘n voorreg om daar te kon kuier.




